Mozilla

mozilla

Mozilla Privacy

Mozilla se privaatheidsbeleid

Jou privaatheid is 'n belangrike faktor wat Mozilla (dit is ons) oorweeg in die ontwikkeling van elkeen van ons produkte en dienste. Ons is daartoe verbind om deursigtig en openlik te wees. Hierdie Mozilla-privaatheidsbeleid verduidelik oor die algemeen hoe ons inligting oor jou ontvang, en wat ons met daardie inligting doen sodra ons dit het. Jy kan ook ons produk-privaatheidskennisgewings en -kwelvrae lees vir meer detail oor elkeen van ons produkte en dienste.

Wat bedoel ons met "persoonlike inligting"?

Vir ons beteken "persoonlike inligting" die inligting wat jou identifiseer, soos jou naam of e-posadres.

Enige inligting wat buite hierdie definisie val, is "niepersoonlike inligting".

Indien ons jou persoonlike inligting saam met inligting stoor wat niepersoonlik is, beskou ons die kombinasie as persoonlike inligting.Indien ons alle persoonlike inligting uit 'n stel data verwyder, dan is die oorblywende inligting niepersoonlik.

Hoe kry ons inligting oor jou?

Ons kry inligting oor jou wanneer:

  • jy dit direk aan ons gee (bv. wanneer jy besluit om vir ons omvalrapporte te stuur);
  • ons dit outomaties versamel deur ons produkte en dienste (bv. wanneer jou Firefox-blaaier kontroleer of dit op datum is);
  • iemand anders vir ons inligting oor jou gee (bv. wanneer Thunderbird saam met jou e-posverskaffers werk om jou rekening op te stel); of
  • wanneer ons meer oor jou probeer verstaan, gebaseer op inligting wat jy aan ons gegee het (bv. wanneer ons jou IP-adres gebruik om taalvoorkeur vir sekere van ons dienste te pasmaak).

Wat doen ons met jou inligting sodra ons dit het?

Wanneer jy inligting aan ons gee, sal ons dit gebruik op die maniere waarvoor jy vir ons toestemming gegee het. Oor die algemeen gebruik ons jou inligting om ons te help om ons produkte en dienste aan jou te lewer en dit te verbeter.

Wanneer deel ons jou inligting met ander?

  • Wanneer ons gevra het, en jy toestemming gegee het, om dit te deel.
  • Om produkte en dienste aan jou te lewer of te verwerk, maar net as daardie entiteite wat jou inligting ontvang kontraktueel verplig is om die data te hanteer op maniere wat deur Mozilla goedgekeur is.
  • Wanneer ons ons missie om openlik te wees, vervul. Ons stel soms inligting vry om ons produkte te verbeter en 'n ope web te bevorder, maar wanneer ons dit doen, sal ons jou persoonlike inligting verwyder en probeer om dit op so 'n manier bekend te maak dat die risiko beperk word dat jy daaruit geïdentifiseer word.
  • Wanneer die wet dit vereis. Ons gehoorsaam die wet wanneer ons versoeke oor jou van regerings af ontvang, of wat met 'n regsgeding verband hou. Ons sal jou in kennis stel wanneer ons gevra word om jou persoonlike inligting op hierdie manier te oorhandig, tensy ons regtens verbied word om dit te doen. Wanneer ons sulke versoeke ontvang, sal ons net jou persoonlike inligting vrystel indien ons in goede trou meen dat die wet vereis dat ons dit doen. Niks in hierdie beleid is bedoel om enige wetlike verdediging of besware te beperk wat jy moontlik teen 'n derde party se versoek het om jou inligting bekend te maak nie.
  • Wanneer ons meen dat dit nodig is om leed aan jou of iemand anders te voorkom. Ons sal net jou inligting op hierdie manier deel as ons in goede trou meen dat dit redelikerwys nodig is om die regte, eiendom of veiligheid van jou, ons ander gebruikers, Mozilla of die publiek te beskerm.
  • Indien ons organisatoriese struktuur of status verander (as ons 'n herstrukturering ondergaan, deur 'n ander verkry word, of bankrot speel) kan ons jou inligting aan 'n opvolger of geaffilieerde oordra.

Hoe stoor en beskerm ons jou persoonlike inligting?

Ons is daartoe verbind om jou persoonlike inligting te beskerm sodra ons dit het. Ons implementeer fisiese, besigheids- en tegniese sekuriteitsmaatreëls. Indien ons ondanks ons pogings van 'n sekuriteitsbreuk te wete kom, sal ons jou in kennis stel sodat jy toepaslike beskermende stappe kan doen.

Ons wil ook nie jou persoonlike inligting vir langer hou as wat ons dit nodig het nie. Daarom hou ons dit net lank genoeg om daarmee te doen waarvoor ons dit versamel het. Sodra ons dit nie meer nodig het nie, doen ons stappe om dit te vernietig, tensy ons deur die wet vereis word om dit langer te hou.

Wat anders moet jy weet?

Ons is 'n wêreldwye organisasie en ons rekenaars is op verskillende plekke in die wêreld. Ons gebruik ook diensverskaffers wie se rekenaars in verskeie lande kan wees. Dit beteken dat jou inligting moontlik op een van die rekenaars in 'n ander land kan beland, en daardie land kan moontlik 'n ander vlak van databeskerming-regulasies as jou land hê. Deurdat jy inligting aan ons gee, stem jy in tot hierdie soort oordrag van jou inligting. Ongeag in watter land jou inligting is, voldoen ons aan die toepaslike wette en hou ons ons ook by die verbintenisse wat ons in hierdie privaatheidsbeleid maak.

Indien jy jonger as 13 is, wil ons nie jou persoonlike inligting hê nie en jy moet dit ook nie aan ons gee nie. Indien jy 'n ouer is en meen dat jou kind wat jonger as 13 is aan ons persoonlike inligting gegee het, kontak ons om jou kind se inligting te verwyder.

Wat gebeur indien ons hierdie privaatheidsbeleid of enige van ons privaatheidskennisgewings verander?

Ons moet moontlik soms hierdie beleid en ons kennisgewings verander. Die bywerkings sal aanlyn geplaas word. Indien die veranderinge grondig is, sal ons die bywerking deur Mozilla se gewone kanale vir sulke aankondigings, aankondig, soos blogplasings en forums. Indien jy aanhou om die produk of diens ná die effektiewe datum van sodanige veranderinge te gebruik, beaam jy dat jy sodanige veranderinge aanvaar. Vir jou gerief sal ons 'n effektiewe datum bo-aan die bladsy plaas.

Contact Mozilla

If you want to make a correction to your information, or you have any questions about our privacy policies, please get in touch with:

Mozilla Corporation
Attn: Legal Notices - Privacy
2 Harrison St,
San Francisco, CA 94105