Firefox

’n Blaaier wat weet waar jy is

Firefox kan webwerwe vertel waar jy geleë is sodat jy inligting kan kry wat beter op jou van toepassing is. So maak ons die web slimmer, en boonop op ’n manier wat jou privaatheid geheel en al respekteer. Probeer dit gerus!

Algemene vrae

Wat is ligginggewende blaaiery?

Webwerwe wat ligginggewende blaaiery gebruik sal vra waar jy is sodat hulle jou meer toepaslike inligting kan bied, of tyd kan bespaar wanneer jy ’n soektog doen. As jy byvoorbeeld ’n pizzaplek in jou omgewing soek, sal die webwerf aan Firefox kan vra waar jy jou bevind, sodat jy die presiese antwoord op jou navraag kan kry selfs al tik jy net “pizza” in... op dié manier is dit nie nodig om verdere inligting te verskaf nie.

Of veronderstel jy beplan ’n reis, dan sal die webwerf presies weet waar jou beginpunt is, sodat jy net hoef te sê waarheen jy op pad is.

Hierdie diens is geheel en al opsioneel. Firefox deel nie jou ligging sonder jou toestemming nie, en dit word só gedoen dat jou privaatheid nie in die gedrang kom nie. En net soos enige iets met Firefox, maak dit gebruik van oop standaarde wat maklik deur ander webontwikkelaars gebruik kan word.

Hoe werk dit?

Wanneer jy ’n liggingbewuste webwerf besoek, vra Firefox jou of jy jou ligging wil deel.

As jy instem, maak Firefox ’n skatting op grond van nabygeleë draadlose toegangspunte en jou rekenaar se IP-adres. Firefox stuur dan dié inligting aan die verstek geoligging-diensverskaffer, Google Location Services, om te bepaal waar jy jou min of meer bevind. Die skatting van jou ligging word dan met die betrokke webwerf gedeel.

As jy nié instem nie, doen Firefox niks nie.

Hoe akkuraat is die liggings?

Die akkuraatheid wissel van plek tot plek. In sommige plekke kan jou ligging tot binne enkele meter bepaal word, maar in ander plekke sal die akkuraatheid heelwat minder wees. Die liggings wat deur ons diensverskaffers voorsien word, is bloot skattings en is nie gewaarborg om akkuraat te wees nie. Moenie hierdie inligting vir noodgevalle gebruik nie en gebruik altyd jou gesonde verstand.

Watse inligting word gestuur, en aan wie? Hoe word my privaatheid beskerm?

Jou privaatheid is baie belangrik vir ons, en Firefox deel nooit jou ligging sonder jou toestemming nie. Wanneer jy ’n bladsy besoek wat jou inligting versoek, word jy eers gevra voordat die inligting met die webwerf en ons derdeparty-diensverskaffer gedeel word.

Firefox gebruik by verstek Google Location Services om jou ligging te bepaal. Firefox stuur die volgende inligting:

  • jou rekenaar se IP-adres
  • inligting oor nabygeleë draadlose toegangspunte
  • ’n lukraak rekenaaridentifiseerder wat deur Google toegewys word en elke 2 weke verval.

Vir ’n volledige omskrywing van die inligting wat versamel word en deur Firefox gebruik word, kyk die Firefox-privaatheidbeleid (in Engels).

Google Location Services bepaal dan jou geskatte geoligging (bv. lengte- en breedtegraad). Vir ’n volledige omskrywing van die inligting wat versamel word en deur Google gebruik word, kyk die Geolocation-privaatheidbeleid (in Engels).

Die inligting word oor ’n geënkripteerde verbinding gestuur om jou privaatheid te beskerm. Sodra Firefox jou ligginginligting het, dra dit die inligting oor aan die webwerf wat dit versoek het. Nóg die naam of ligging van die webwerf wat jy besoek, nóg enige koekies, word ooit met Google Location Services gedeel.

Nóg Mozilla nóg Google sal ooit die inligting gebruik wat deur Google Location Services versamel word om jou te identifiseer of op jou te spioeneer nie.

Vir meer inligting oor wat die betrokke webwerf met jou ligginginligting doen, lees daardie webwerf se privaatheidbeleid.

Vir meer inligting oor jou privaatheid, lees gerus die volgende:

Word ek gevolg of nagespeur wanneer ek blaai?

Nee. Firefox versoek net ’n ligging wanneer die betrokke webwerf dit versoek, en dit deel net jou inligting as jy die versoek toestaan. Firefox speur jou nie na nie en onthou ook nie jou ligging nie.

Hoe kan ek toestemming intrek wat ek aan ’n werf gegee het?

As jy Firefox toestemming verleen het om jou ligging altyd aan ’n werf te gee, en jy verander later van plan, kan jy die toestemming maklik intrek. Doen as volg:

  • Gaan na die werf waarvoor jy toestemming verleen het
  • In Firefox, gaan na Nutsgoed en kies dan Bladsyinfo
  • Kies die Toestemming-oortjie
  • Verander die instelling vir Deel ligging

Hoe skakel ’n mens ligginggewende blaaiery permanent af?

Dit is altyd jou keuse in Firefox of jy ligginggewende blaaiery wil gebruik. Geen ligginginligting word ooit sonder jou toestemming gestuur nie. As jy die funksionaliteit geheel en al wil deaktiveer, volg die volgende stappe:

  • In die adresveld, tik about:config
  • Tik geo.enabled
  • Dubbelkliek die geo.enabled-voorkeur
  • Ligginggewende blaaiery is nou gedeaktiveer