Mozilla

Geskiedenis van die Mozilla-projek

Die Mozilla-projek is in 1998 gestig met die vrystelling van die Netscape-blaaisuite se bronkode. Die plan was om die kreatiewe krag van duisende programmeerders op die Internet te gebruik om ongekende vlakke van innovering in die blaaiermark te ontsluit. In die eerste jaar het gemeenskapslede van reg oor die wêreld reeds nuwe funksionaliteit bygedra, bestaande funksionaliteit verbeter en betrokke geraak by die bestuur en beplanning van die projek self.

Deur 'n oop gemeenskap te skep, het die Mozilla-projek groter as enige enkele maatskappy geword. Gemeenskapslede het betrokke geraak en die strekking van die projek se oorspronklike missie uitgebrei — in plaas van om net te werk aan Netscape se volgende blaaier het mense begin om 'n verskeidenheid blaaiers, programmeerhulpmiddels en ander projekte te maak. Mense het op verskillende maniere bygedra tot Mozilla, maar almal was passievol om vry sagteware te skep wat mense 'n keuse sou gee oor hoe hulle die Internet ervaar.

Na 'n paar jaar se ontwikkeling is Mozilla 1.0, die eerste groot weergawe, vrygestel in 2002. Die weergawe het heelwat verbeterings gehad aan die blaaier, e-poskliënt en ander toepassings in die suite, maar daar was nog nie baie mense wat dit gebruik het nie. Teen 2002 het goed meer as 90% van Internetgebruikers Internet Explorer gebruik. Min mense het destyds geweet, maar die eerste weergawe van Phoenix (later hernoem na Firefox) is ook daardie jaar deur Mozilla-gemeenskapslede vrygestel met die doel om die beste moontlike blaai-ervaring te bied aan die wydste moontlike gehoor.

In 2003 het die Mozilla-projek die Mozilla-stigting opgerig, 'n onafhanklike organisasie sonder winsbejag wat ondersteun word deur individuele borge en 'n verskeidenheid maatskappye. Die nuwe Mozilla-stigting het die projek se daaglikse bedrywighede verder bestuur en ook amptelik die rol vervul om openheid, innovering en geleentheid op die Internet te bevorder. Dit is bereik deur deurgaans sagteware soos Firefox en Thunderbird vry te stel, en deur uit te brei na nuwe areas, soos skenkings om toeganklikheid te verbeter op die Web.

Firefox 1.0 is in 2004 vrygestel en was 'n groot sukses — in minder as 'n jaar is dit meer as 100 miljoen keer afgelaai. Nuwe weergawes van Firefox is sedertdien gereeld vrygestel en breek steeds nuwe rekords. Die gewildheid van Firefox het gehelp om gebruikers weer 'n keuse te gee. Die hernude kompetisie het innovasie versnel en die Internet vir almal verbeter.

In 2013 begin Mozilla met Firefox OS om die volle krag van die Web op slimfone beskikbaar te maak en só beheer en keuse te gee aan 'n nuwe generasie van mense aanlyn.

Mozilla het ook sy 15de bestaansjaar gevier in 2013. Die gemeenskap het gewys dat kommersiële maatskappye kan baat vind by samewerking in oopbronprojekte en dat groot eindgebruikerprodukte as oopbron-sagteware gebou kan word. Meer mense as ooit tevore gebruik die Internet en ervaar dit in hul eie taal. 'n Volhoubare organisasie is geskep wat markmeganismes gebruik om 'n missie vir openbare voordeel te ondersteun, en dié model is weer deur ander gebruik om oop, deursigtige en samewerkende organisasies te skep in 'n wye verskeidenheid areas.

Die toekoms is vol uitdagings en geleenthede gelykstaande aan dié van ons verlede. Daar is geen waarborg dat die Internet oop, aangenaam, of veilig sal bly nie. Mozilla sal steeds voortgaan om 'n geleentheid vir mense te skep om hulle stemme hoorbaar te maak en hulle lewens aanlyn te vorm. Natuurlik is ons nie alleen hiermee nie. Die Mozilla-gemeenskap, asook ander oopbronprojekte en ander organisasies vir openbare voordeel, bestaan slegs as gevolg van die mense wat betrokke is om die gemeenskaplike doelwitte te laat realiseer. Om by ons missie aan te sluit, raak gerus betrokke.

Vir meer inligting oor Mozilla se geskiedenis, sien die volgende: